Article in the Afrikaans language written for the magazine "Word and Action" ("Woord en Daad") Word and Action is an independent magazine commenting on topical issues. Commentary on current affairs is critical yet constructive and strives to bring a Reformational Christian perspective to bear on topical issues.
Om sendeling te wees
(of hoe om Jesus te volg)
Ockert & Michele Potgieter
Christian Revival Church “Light of the world”,
Reni, Oekraine
Waar begin ’n mens om te vertel van elf jaar se sendeling-wees? Hoe verwoord jy iets van al die lesse wat geleer is, die trane wat gevloei het en die vreugde wat ervaar is gedurende twaalf jaar in die voetspore van Jesus? Aanslae? Soveel meer as wat opgenoem kan word. Vrug? Meer as wat ons ooit sal weet. Om Jesus te kan volg, moet ons deur ‘n hele reeks (groei)fases gaan: daar is ‘n roepingsfase, maar ook ’n weerstandsfase, ’n deurbraakfase, ’n woestynfase, ’n klipgooi-fase ... Maar wag, laat ons heel voor begin. In die begin het God ‘n hart geneem wat woes en leeg was en gesê: “Laat daar lig wees...”
Wie word geroep en gestuur?
Elkeen van ons word geroep om dissipels van Jesus te word. Ons word geroep terwyl ons verlore is en gebind met kettings van godsdiens en die verleidelikhede van hierdie wêreld. Soos Jesus sy eerste twaalf dissipels geroep het, een vir een waar hulle weggekruip het agter tollenaarstafels en vissersnette, roep Hy ook vir my en jou. Hy roep ons na Hom en stuur ons na die wêreld. Ons sendingveld is die plek waarheen Hy ons stuur. Dit kan ’n buurt wees, ’n werksplek, ’n vreemde land ...
Die Bybel is vol voorbeelde hiervan: Abraham, Moses, Petrus, Paulus en Matteus (of Levi). Hy sou dit verseker altyd onthou – daardie dag waarop hy geroep is om sy tafel vol bedrog agter te laat en die Man met die herderstem te volg, die stem wat soos koue water oor sy hele wêreld kom spoel en alles verander het: “Volg My ...” Niks sou ooit weer dieselfde wees nie.
Ons het almal op ’n dag daardie stem gehoor: “Volg My ...” Elkeen is geroep. Ons word geroep nie net om gelowiges te word nie, maar om dissipels van Jesus te word. Ons almal word dus geroep om sendelinge te word, want Hy sou ons elkeen stuur: party na Jerusalem, party na Judea, ’n groepie na Samaria, en enkeles na die uiteindes van die wêreld.
Die sendingsopdrag
Die Afrikaanse woord sendeling is afgelei van die Nederlandse werkwoord zenden (om te stuur). Reeds in Genesis het God mense gestuur: Abraham is gestuur uit die land Ur na die land wat die Here hom sou wys; Moses is gestuur na Egipte om God se volk uit die land van slawerny te lei na die beloofde land; profete is gestuur om die Woord van die Here te bring aan sy volk. Dikwels moes die gestuurde ’n geweldige prys betaal om gehoorsaam te wees aan die stuuropdrag. Jesus vertel die gelykenis van die grondeienaar wat sy wingerd toevertrou het aan mense en hoe hulle die gestuurde boodskappers en selfs die seun van die eienaar mishandel, met klippe gegooi en doodgemaak het.
Net soos Jesus het ook ons ’n opdrag, ’n mandaat en ’n boodskap en sal ons krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom.
Ons tref die begrip stuur aan in die sogenaamde “sendingsopdrag” in Mattheus 28:18-20 waar Jesus sy dissipels uitstuur. Die eerste sendeling of gestuurde van die Nuwe Verbond was Jesus van Nasaret. Die Vader het Hom na ons wêreld gestuur. Hy het ’n opdrag (missie) van die Vader ontvang asook ’n boodskap vir die mensdom (die “blye boodskap” of “goeie nuus”: die evangelie). Jesus het op ’n dag aan sy dissipels verklaar: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.” Net soos Jesus het ook ons ’n opdrag, ’n mandaat en ’n boodskap. Jesus het verder ook nog belowe dat ons nie in eie krag hoef te gaan nie, maar dat ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom (Hand. 1:8).
Die brandende-bosfase (roeping)
Moses is geroep toe die Here met hom vanuit ’n brandende bos praat het. Levi is geroep toe Jesus verby sy tollenaarstafel geloop het. Paulus het Jesus op die pad na Damaskus ontmoet. Op ’n dag het die Here ook met my en my vrou, Michele, gepraat oor sy liefde vir die mense van die voormalige Sowjet-Unie. Hulle was blind, leeg en stukkend binne-in. Hy het met ons gepraat deur sy Woord, deur getuienisse en in ons stiltetye saam met Hom. Hy het gevra of ons bereid sou wees om te gaan. Eendag het die Here met my gepraat oor die busvragte vol mense op die strate van Odessa. Die “trolliebusse” was volgepak sodat ’n mens skaars op jou eie voete kon staan. Die gesigte het leeg voor hulle uitgestaar. En skielik het ek so duidelik ervaar hoe busvragte vol mense op pad is hel toe en God vra: “Wie sal Ek stuur? Wie sal gaan?”
Ons was so opgewonde en wou die wêreld omkeer en verower. Ons het ’n geloof gehad wat berge kon versit. Die Here het in hierdie tyd vir ons baie beloftes gegee. Ons het ’n visie gekry wat ons so duidelik in die gees kon sien. Ons was vas oortuig dat die Here dit sou uitvoer. Ons het drome gedroom en geglo dat Hy die een is wat die drome droom en dit waar sou maak deur ons.
Jesus roep ons elkeen om Hom te volg. Om Hom te volg beteken om te wees soos Hy is en te gaan waar Hy gaan. Al beteken dit dat ons na ’n ander kultuur of selfs na ’n land ver van hier moet gaan; al beteken dit dat ons sal ly soos Hy gely het en verwerp sal word soos Hy verwerp is. Hy belowe ’n skat in die hemel en ook dat alles wat Syne is ook ons s’n sal wees!
Die oesland behoort aan die Here en Hy roep ons om werkers in sy oes te wees. Baie word gestuur maar daar is min wat gaan.
Die oesland behoort aan die Here en Hy roep ons om werkers in sy oes te wees. Hierdie roeping gee sin aan ons lewens. Dit is die rede waarvoor ons hier op aarde is, maar die Here van die oes sê dat die werkers min is. Baie is gestuur maar min het gegaan.
Die weerstandsfase
God het Moses gestuur, maar Farao het hom weerstaan. Die vyand gee nie dit wat aan hom behoort, sonder stryd prys nie. Enige persoon wat deur die Here gestuur word sal geweldige teenstand ervaar: vernedering, beskuldigings, vervolging, ontbering, harde harte. Ons het al hierdie dinge en nog baie meer aangetref met ons aankoms in Oekraine: ysige temperature, fisiese ontberings, vervolging van die owerhede, ons is aangehou deur gewapende rowers, ons het al ons besittings en finansies in ’n enkele dag verloor, ons het te doen gekry met ’n vreemde taal en ’n vreemde kultuur, baie mense het na ons gestroom, nie omdat hulle die Here gesoek het nie, maar omdat hulle gedink het mense uit die buiteland is ryk en het ’n onuitputbare bron van geld.
Soveel kere is ons gedreig met deportasie en het dit gelyk of ons nie weer sou kon terugkeer om die werk voort te sit nie, maar telkens het die Here ons herinner aan sy belofte: as Hy die deur oopmaak, kan niemand dit toemaak nie! Ons het ontelbare wonderwerke beleef. Gedurende die weerstandsfase het ons geleer om vas te hou aan die beloftes van die Here; ons het geleer om te volhard in gebed en nie moedeloos te word nie. Daniël het gevas en gebid, maar die engel het eers verskyn na 21 dae. Ons het geleer dat ons moet bly volhard in gebed so lank as wat dit nodig is, al duur dit jare lank.
Die Rooisee-fase
God het sy krag by die Rooisee gedemonstreer. Israel en al die nasies het geweet dat dit net Hy is wat die oorwinning gee. Hy alleen kan deur al die vestings in mense se denke, hulle blindheid en harde harte breek sodat hulle sy boodskap kan verstaan en in hulle harte kan ontvang. Ons het geleer dat God getrou is: as ons bid, antwoord Hy, Hy voorsien, Hy sorg. Ons het nie ’n enkele dag sonder kos gebly nie, al het dit baie keer gelyk asof daar nie uitkoms is nie. Die Here het mense gered, mense genees en vrygemaak. Ons kon ’n gemeente plant, asook ’n kleuterskool (wat tans 70 kinders versorg), twee kinderhuise (vir weggooikindertjies), ’n krisisswangerskapsentrum, ’n winkel en ’n televisieprogram vir jongmense. Telkens kon ons net aan Hom die eer gee.
Die woestynfase
In die woestyn voel dit soms of die Here van jou vergeet het. Die son word warm en op die horison is daar net eindelose rye sandduine. Dit is in die woestyn dat ons geleer het om die Here te vertrou vir elke behoefte. Ons het geleer om geduldig te wag en te bly glo, selfs wanneer alles wat God belowe het, nie dadelik waar word nie. In die woestyn het ons ook geleer dat ons karakter vir God belangrik is. Hy neem ons juis deur beproewings sodat ons meer soos Jesus kan word.
Die moeilikste les vir enige dissipel is om God te vertrou en nie op eie krag of insig nie.
Dit was in die woestyn dat Moses die opdrag gekry het om met die rots te praat. God het belowe dat daar water sou vloei uit die klip. Moses het die rots met sy staf geslaan en God het Hom bestraf. “Omdat jy My nie vertrou het nie, sal jy nie die beloofde land binnegaan nie.” Die moeilikste les vir enige dissipel is om op God te vertrou en nie op eie krag of insig nie. Ons raak so gou soos Saul paniekerig as dinge nie wil uitwerk nie. Ons probeer situasies of mense verander in plaas daarvan om te bid en die Woord van die Here in situasies te spreek.
Soms is ons so besig om in eie krag te probeer om in die oneindige groot nood van mense te voorsien, dat ons afgesny word van die wynstok. Dikwels is ons so besig dat ons dit self nie eers agterkom nie. Baie keer is dit eers as ons uitbrand of deur ’n geweldige krisis moet gaan dat ons besef dat ons in eie krag funksioneer en van die Here, ons bron, weggedryf het.
Die stenigingfase
Moses se eie mense wou hom met klippe stenig. Dit was dieselfde mense vir wie hy jare lank sy lewe gegee het. Jesus is deur Judas verraai en elkeen wat gestuur word na God se oesland gaan deur hierdie ervaring. Dit maak soveel seerder wanneer broers en susters jou verraai as mense wat ver van jou af is. Dit is dan wanneer ons leer om te vergewe. Ons leer wat dit is om God waarlik lief te hê en te bly gehoorsaam, ongeag die prys en ongeag wat aan jou gedoen is. Ons moes ook hierdie pynlike fase deurgaan toe mense op wie ons vertrou het, beskuldigings oor ons versprei het en probeer het om ons huis en alles wat ons het, af te neem. Hulle het ons gemeente verdeel en probeer keer dat ons ooit weer terugkeer Oekraine toe. Ons is deur die hele dorp beswadder (ook tot in Suid-Afrika). Daar is stories versprei dat ons dwelms sou gebruik en verhandel, kinders in ons liefdadigheidskleuterskool sou misbruik en betrokke sou wees by allerhande perverse praktyke. Die Here het ons geleer om stil te bly en nie onsself te probeer verdedig nie. Hy het ons geleer dat sy genade vir ons genoeg is. Hy het ook bewys dat as ons op Hom vertrou, ons nie beskaamd sal wees nie.
Dit is wanneer ’n mens gestenig word deur die mense vir wie ons ons lewens neergelê het, dat ons besef dat dit nie ter wille van die erkenning van mense is, of in die eerste plek oor die groot nood van mense gaan nie, maar oor gehoorsaamheid aan God en sy opdrag aan ons. Dit is te midde van hierdie hartseer uur dat die Vader se belofte helderder as ooit weerklink: “Julle sal met trane saai, maar met vreugde oes!”
Getsemanefase
In die donker uur van ons eie Getsemane leer ons om ons Vader blindelings te vertrou. Ons eie emosies en ambisie word onbelangrik en ons verstaan dat dit alles gaan oor Hom, oor sy koninkryk en ons gehoorsaamheid aan Hom.
Die Woord leer ons dat Jesus, die Seun van God, geleer het wat gehoorsaamheid is, deur wat Hy moes ly. Jesus se gehoorsaamheid is in die tuin van Getsemane getoets. Hy het gebid: “Nie My wil nie, maar U wil ...” In die donker uur van ons eie Getsemane leer ons om ons Vader blindelings te vertrou. Ons leer om ons eie drome, ons eie toekoms en ons eie idees, selfs ons eie roeping, op die altaar te plaas soos Abraham eens vir Isak op altaar moes plaas. Dit is eers op hierdie oomblik dat ons leer om blindelings te vertrou. Ons eie emosies en ambisie word onbelangrik en ons verstaan dat dit alles gaan oor Hom, oor sy koninkryk en ons gehoorsaamheid aan Hom.
En so word die fases van jou en my paadjie in Jesus se voetspore aanmekaar geweef in ‘n eindlose patroon van aanslae en oorwinnings, foute maak en weer opstaan.
Aanslae? Daar was soveel meer as wat ’n mens in hierdie paar bladsye kan vertel. Moegheid, moedeloosheid, verraad, verwerping ... maar in sy krag kon ons elke aanslag oorkom, omdat ons Here reeds die oorwinning behaal het.
Vrug? Elke siel wat vir ewig gered is uit die ryk van die duisternis is soveel meer kosbaar as enigiets op aarde. Selfs al sou ons net vir een siel Oekraine toe moes gaan, sou dit steeds die moeite werd gewees het. Ons weet ons was gehoorsaam en ons weet dit is wat die Vader bly maak.
Jesus is deur die Vader gestuur. Hy was ’n sendeling en Hy is geroep nog voor die grondlegging van hierdie wêreld. Hy moes die Satan weerstaan: reeds vanaf sy geboorte, toe Herodes Hom wou vermoor; Hy moes 40 dae in die woestyn worstel waar Hy versoek is, maar Hy het oorwin. Hy het wonders gedoen en die heerlikheid van God geopenbaar. Hy is in Nasaret verag en deur Judas gekus – ’n dodelike verraaierskus. Hy is gekruisig en deur God verlaat, sodat al die ander sendelinge wat Hy sou stuur en wat sy pad sou loop deur al hierdie fases heen, nooit deur God verlaat sou word nie. Ons word gestuurde sendelinge, maar die Een wat ons stuur gaan saam met ons!
Twaalf jaar is soos ’n droom verby. Voor ons op die pad wag daar verseker nog baie fases en nog baie lesse wat geleer moet word. Ons weet dat ons geroep word en sendelinge (gestuurdes) sal bly totdat Jesus ons kom haal – tot die laaste fase ...
Die laaste fase
Daar kom ’n wonderlike dag van vreugde en ewige heerlikheid wanneer elkeen wat gestuur is en gegaan het, sal hoor: “Mooi so, getroue dienskneg. Hier is jou beloning. Gaan in in die vreugde van jou Heer!”
Powered by
Create your own unique website with customizable templates.
